Wat is die woorde wat jy spreek oor jou kinders?

IMG_8197

Woorde het krag. So sê die wat weet. Ek het al so baie hieroor gewonder. Het dit wat ek hardop sê vir (en van) my kinders regtig ʼn effek op hulle? Gaan dit regtig hulle lewe beïnvloed, op welke manier ook al?

Die tong het mag oor dood en oor lewe”. So staan dit in die Bybel. Dis eintlik vir my ʼn bietjie scary dié. Dit het my aan die dink gesit oor wat die gevolge is/gaan wees van die woorde wat ek oor my kinders spreek. Dit het my laat oplet oor hoé ek met hulle praat. Die stemtoon wat ek gebruik wanneer ek met hulle praat. Ek moet jou eerlik sê… ek was eintlik so teleurgesteld in myself.

Ek het agtergekom dat hoe ek ook al voel op ʼn spesifieke oomblik ʼn direkte invloed het op hoe ek my kinders op dieselfde oomblik hanteer. En dit is so verkeerd. Dit is nie hulle skuld dat ek sopas terugkom van ʼn vieslike dag by die werk nie. Dat ek vir ʼn tweede keer vandag my top geblaas het vir iemand wat soos hulle agterente bestuur nie. Dat ons laat is vir wat ook al nie. Dit is nie hulle skuld nie. Tog is die bui waarin ek my bevind so dikwels bepalend van my stemtoon as ek hulle antwoord op iets. Ek het besef dat as iemand my moes antwoord op die manier wat ek hulle soms antwoord, ek dadelik seergemaak sou wees. My ma het my altyd geleer “dis nie so seer wát jy sê nie, dis hoé jy dit sê”. Sy was so reg.

Kyk, om op ʼn daaglikse basis as ʼn ouer te weet wat om wanneer en op watter manier te sê is ʼn massiewe uitdaging op sy eie – ek het geen illusies daaroor nie! Sit nou nog by dat dit wat jy sê jou kind se uitkyk op die lewe letterlik kan beïnvloed en die druk raak soms oorweldigend. Dis hoe ek altyd daaroor gevoel het. Intussen het ek so bietjie van ʼn mindshift gehad. Ja, dit raak oorweldigend en ja, dit is ʼn bittere groot verantwoordelikheid, maar dis ook ʼn ongelooflike geleentheid. Besef jy dat elke keer wat jy jou mond oopmaak om met, of van, jou kinders te praat jy die geleentheid het om LEWE oor hulle te spreek? Dink daaraan! Met elke gesprek wat tussen jou en jou kinders plaasvind kan jy ʼn positiewe gedagte by hulle plant. Kan jy hulle bemoedig, motiveer, jou liefde en ondersteuning aan hulle bevestig. Jy kan ʼn daadwerklike verskil maak in hoe HULLE die lewe ervaar deur wat JY vir hulle sê.

As jy elke dag vir jou kind vertel dat hy liewer nie iets moet probeer nie, want netnou gaan hy dit nie reg kry nie, gaan hy begin glo dat hy niks kan doen nie. As jy vir jou kind bly sê dat sy moedswillig of heeltyd nukkerig is, gaan sy begin glo dat dit is wat jy van haar dink! Maar as jy vir jou kind sê dat als die moeite werd is om te probeer, want daar ìs iets waarmee hy sal goed wees, en dat mislukkings gebeur, maar dat dit nie die einde van die wêreld is nie, dan gaan daai kind die moed hê om te probeer. As jy vir jou kind sê dat dit oukei is om deur ‘dips’ van emosies te gaan, om ʼn af dag te hê, dat ons almal soms so voel, gaan sy voel jy verstaan haar en dan kom praat sy dalk net met jou oor wat dit is wat haar so ontstel het.

Ek moes weer mooi gaan dink oor die manier wat ek my kinders hanteer. Die manier waarop ek met hulle praat. Ek moes weer gaan kyk na my geduld met hulle. Om ʼn ouer te wees, is ʼn massiewe blessing. Dit kom egter ook met ʼn baie, baie groot verantwoordelikheid. Die verantwoordelikheid van LEWE spreek oor jou kinders. Elke dag. Sonder ophou. In elke gesprek. Selfs al is dit ʼn gesprek wat gaan oor iets wat hulle verkeerd gedoen het, het jy die KEUSE oor wat jy vir daai kind sê en hoe jy dit sê. Jy kan steeds tugtig, maar doen dit met deernis. Dit maak ʼn reuse verskil in hoe ons kinders die wêreld gaan ervaar en hoe hulle ander mense gaan hanteer later in hulle lewens.

Bo en behalwe als kan ons net bid vir leiding op hierdie journey van kinders groot maak. Die vet weet dis nie aldag ʼn maklike een nie. Maar my liewe mede-mamma….dis SO die moeite werd.

Leave a comment