Die eina van verlies

Verlede week het een van my kosbaarste vriendinne iemand baie spesiaal aan die dood afgestaan. Ai. Dit bly maar een van die seerste seer goed om te beleef. Almal van ons (of meeste van ons) het al iemand wat ons lief het of wat na aan ons was verloor. En, soos dit maar is as so iets gebeur, laat dit jou weer oor baie dinge dink. Introspeksie noem hulle dit dink ek? Bietjie na binne kyk en dink oor dinge wat mens nie altyd aan wil dink nie.

In elk geval, hierdie pragtige vriendin van my sê vanoggend vir my sy voel nog wasig. Dit was vir my die perfekte beskrywing. Daardie absolute just-going-through-the-motions gevoel in die dae na so verlies. Soos om op “autopilot” te funksioneer. Dis mos asof mens die regtig helder kan dink, of regtig kan onthou wat in die paar dae na afloop van als gebeur het nie. Wasig. Jy wil ook eintlik nie te diep dink nie, want dan sink die realiteit van wat besig is om te gebeur weer in. En dan kom die dag wat jy afskeid neem, en jou oë is droog gehuil en jy druk die mense wat jy lanklaas gesien het styf teen jou vas. En dan moet jy aangaan. Die lewe staan vir niks en niemand stil nie.

Dan gebeur die vreemde ding vir my altyd: mense dink nou dat als verby is en die begrafnis is afgehandel en jy is terug in roetine dat jy mos nou weer jou ou self moet wees, of hoe? Dis mos nou verby. Jy is mos nou weer oukei. So asof mens nie ‘n stukkie van jouself ook begrawe nie. So asof daar nie ʼn gat in jou hart is nie. Niemand, glo ek, is na die verlies van iemand spesiaal ooit weer dieselfde nie. Jy kan dalk naderhand leer om met die eina saam te leef, maar ek dink nie dit gaan ooit weg nie. Nie regtig nie. Dan is dit vir my asof mense so half geïrriteerd raak as jy nog steeds hartseer is. En ek dink dit is stupid. Hartseer het nie ‘n raklewe nie. Hartseer gaan aan vir solank as wat jou hart bleddie seer is. Jy MAG maar hartseer wees. Jy MAG maar nog wasig voel. Jy MAG maar nog huil. Moenie dat enige iemand jou anders vertel nie. Verlies is eina.

Dan (genadiglik) maak tyd die eina eventueel bietjie beter, sodat jy weer stukkie vir stukkie jou hart bymekaar kan skraap en in jou borskas kan probeer terugdruk. Die wasigheid verdwyn uiteindelik genoeg sodat die sonnetjie sy mooi strale weer oor jou gesig kan laat val. Wanneer jy besef dat ten spyte van hierdie bittere eina, die res van die mooi goed in jou lewe nog daar is.

Ja, verlies is ‘n aaklige ding. Onvermydelik selfs. Genadiglik is ons so geskape dat ons kán optel en aangaan. Genadiglik is die mense wat vir jou lief is daar, en hulle hou nooit op bid nie. Genadiglik is daar ‘n Sterker Krag wat jou ondersteun wanneer jy voel jy wil val. Wat ‘n blessing. Ek dink, nee….ek weet, dit is wat mens dra.

Druk vandag jou hartsmense styf vas, want of dit nou ‘n cliché is of nie, hierdie ou lewe is vir ons net geleen.

Leave a comment